Wanneer ons dink aan leer in die kleuterskool, dink ons dikwels aan letters, kleure en tellers. Daar is egter iets baie belangriker wat stil-stil in elke speletjie, storie en dagroetine gebeur – dit help kinders om te dink, te voel en op te tree op maniere wat hulle vir die lewe voorberei.
Hierdie vaardighede noem ons die uitvoerende funksies – die “bestuurders” van die brein wat kinders help om besluite te neem, emosies te hanteer en take te voltooi.
1.Selfbeheersing – Dink voordat jy doen
Selfbeheersing beteken dat kinders leer om eers te stop en te dink voordat hulle optree.
Voorbeeld: Wag vir jou beurt in ’n speletjie of gebruik sagte hande tydens speel.
2.Werkende Geheue – Onthou wat om te doen
Werkende geheue help kleuters om instruksies te onthou en meer as een instruksie uit te voer.
Voorbeeld: “Gaan was jou hande en dan kom eet jy.” Liedjies, rympies en roetines help hulle om dit te oefen.
3.Emosionele regulering – Verstaan my emosies
Kleuters het groot emosies! Emosionele regulering beteken om hierdie gevoelens te herken en op ’n gesonde manier te hanteer.
Voorbeeld: “Haal diep asem en vertel vir Mamma hoe jy voel.”
4.Buigsame denke – Probeer iets anders
Buigsame denke help kinders om nuwe oplossings te probeer wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.
Voorbeeld: Gebruik ’n ander speelding of watter plan kan ons maak.
5.Beplanning en organisasie – Weet wat om eerste te doen
Kinders voel rustiger as hulle weet wat volg. Dit help hulle om onafhanklik te wees. Voorbeeld: Visuele roetines met prentjies gee vir kinders ‘n visuele aanduiding van wat kom.
6.Taakaanvang – Begin sonder om gesê te word
Om ’n taak sonder uitstel te begin, bou selfvertroue en onafhanklikheid.
Voorbeeld: “Kom ons begin om net die blokkies op te tel.” en prys elke poging.
7.Selfmonitering – Kyk hoe ek dit doen
Hier leer kinders om te dink oor hoe hulle optree en wat hulle doen.
Voorbeeld: “Hoe het jy dit gedoen?” of “Hoe kon ons dit anders doen?”
8.Aandag hou – Fokus en luister mooi
Aandag hou help kinders om te luister, te kyk en op ’n taak te fokus, selfs al is dit nie altyd maklik nie.
Voorbeeld: Storietyd, blokkiesbou en raaispeletjies bevorder konsentrasie op ’n prettige manier.
Wenke vir ouers:
– Moedig kinders aan om klein takies self te begin.
– Gebruik roetines om werkende geheue te oefen.
– Praat met jou kind oor gevoelens en hoe om dit te hanteer.
Slotgedagte
Uitvoerende funksies is soos spiere – hulle raak sterker met oefening. Elke keer as ’n kind wag vir sy beurt, onthou wat om te doen, of ’n moeilike emosie hanteer, bou hy of sy breinkrag.
By Linden Akadmie skep ons elke dag speletjies, roetines en geleenthede om hierdie vaardighede te oefen – alles in ’n liefdevolle en veilige omgewing.

